Saamgestel deur Ockert Malan. Die samesteller verwelkom kommentaar oor foute en ander gebreke ten einde regstellings te maak.
Opdrag
Opgedra aan my Ouers wat op persele 6388 en 6389 teen Papegaaisberg rus.
Inhoud
Die Stellenbosse Heemkring het in 2001 transkripsies van die Stellenbosse sterfgevalle (insluitend die Doderegisters, Grootboek en Munisipale Graflys) op ‘n stel 3 duim slapskyfies uitgegee. Nuwe tegnologie het dit nou moontlik gemaak om hierdie transkripsies aan te vul met beeldmateriaal en interessante agtergrondinligting, soos ander opgawes van sterftes en begrafnisse op Stellenbosch, ook van voor 1765, die aanvangsdatum van die vorige stel. In slegs enkele gevalle is inligting is oor opskrifte op grafstene ingesluit. Sulke inligting, ook van Stellenbosch, is beskikbaar op die webblad van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika.
Hierdie stel sluit in:
‘n Oorsig oor die Stellenbosse begraafplase
Alhoewel daar min direkte gedokumenteerde getuienis is, kan aanvaar word dat Stellenbosch se eerste begraafplaas geleë was rondom die eerste kerkie (1687 tot 1710) op die straatblok wat tans omgrens word deur Kerkstraat, Van Ryneveldstraat, Pleinstraat, en Andringastraat.
Daar is in 1687 ‘n plakkaat uitgevaardig1 wat teraardebestellings buite formele begraafplase verbied het. Dit sou beteken dat alle vroeë grafte op Stellenbosch rondom (of in) hierdie kerkie geleë moes gewees het.
In 1717 is besluit dat die kerk nie op hierdie terrein herbou sou word nie, maar op die huidige terrein aan die bopunt van Kerkstraat. Die eerste graf op hierdie terrein was waarskynlik die herbegrafnis van oud-landdros Mulder se vrou2.


Vanaf 1723, toe die tweede kerk ingewy is, is daar benewens in grafte in die kerkhof rondom die kerk, ook binne die kerk mense begrawe. Die laaste hiervan was ‘n kind van Johannes Wege in 18104. Die grafkelders op die kerkterrein verskyn vanaf 18015.
Die meer volledige grafrekords vanaf 17656 toon aan dat begrafnisse op plase toe reeds algemeen was.
Die beperkte ruimte in die kerkhof om die kerk het die kerkraad gedwing om in 1849 ‘n nuwe begraafplaas “in die Vlakte” aan die noordepunt van Andringastraat in gebruik te neem7.
Weens onbekende redes het hierdie “Nieuwe Kerkhof”, waarin ook 25 grafkelders aan die noordemuur ingerig is, nie algemeen byval gevind nie. Reeds in 1859 is by Papegaaiberg (ook bekend as Steenenbrug) begrawe. Die gevolg was dat vir ‘n periode drie begraafplase in Stellenbosch gelyktydig in gebruik was. Die laaste begrafnis by die kerk was waarskynlik in 1904.

‘n Vergrote deel van die Murison-panorama van Stellenbosch van 1899. Dit is een van die enkele oorblywende bewysstukke vir die bestaan van die Vlakte-begraafplaas. Die ringmuur van 1390 voet is hier duidelik te sien. Die opstal regs voor is Kromrivier met Hammanshand in die middel agter. (Met vergunning van die Stellenbosse Heemkring)
Die “Vlakte-begraafplaas” het mettertyd verwaarloos en vervalle geraak en daar het ook herbegrafnisse plaasgevind na Papegaaiberg. Die toestand van die Vlakte-begraafplaas was ná ‘n eeu so haglik, dat die Kerkraad van Stellenbosch-Noord, wat in 1955 suksesvol aansoek gedoen het vir die perseel om hul kerk op te rig, beweer het dit herinner aan die “duiwelbesetene van Gadara” 8. Selfs nie ‘n enkele grafsteen uit hierdie begraafplaas kon tot dusver opgespoor word nie.
Vanaf ongeveer 1880 het die Kerkraad die gebruik van die begraafplaas Papegaaiberg/Steenenbrug geformaliseer deur met die invoering van die sg. Grootboek9 en die sisteem van familiepersele. Die familiepersele het meegebring dat talle begrafnisse deurentyd nog in die oudste dele van Papegaaiberg plaasgevind het, selfs nadat die Munisipaliteit die beheer van die begraafplaas in 1963 oorgeneem het en tot selfs in die 21ste eeu. Inskrywings in die Grootboek van vóór 1880 is waarskynlik van herbegrafnisse uit die Vlakte of herinskrywings uit ‘n vorige opgaaflys.
Meer inligting is beskikbaar in ‘n praatjie wat mnr Coenie Loubser voor die Stellenbosse Heemkring gelewer het in 1994.
Sedert 1999 is ‘n nuwe begraafplaas aan die Strandpad, die Jamestown-begraafplaas, in gebruik.
Verwysings
- Ad Biewenga, “De Kaap de Goede Hoop”, p. 259.
- A M Hugo & J van der Bijl, “Die Kerk van Stellenbosch” p. 86, oudste grafte.
- Ibid pp. 93-96.
- Loc. cit. p. 92.
- Loc. cit. p. 93.
- Doderegister
- Hugo & v d Bijl, op cit. p. 142
- “Gedenkbrosjure 1953-1963”, N G Gemeente Stellenbosch-Noord, p. 20.
- Grootboek
‘n Lys van persone wat/vir wie “kerklijke gerechtigheid” (begrafnisgelde) betaal het/is tussen 1710 en 1724

Van 1688 tot 1724 is daar gesamentlik boek gehou deur die Kollegie van Landdros en Heemrade en die Kerkraad.
Hierdie gesamentlike kasboeke word in die Kaapse Argiefbewaarplek geberg in volumes 1/STB 12/15 tot 12/18 (gedeeltelik) (verkeerdelik in die inventaris aangedui as “Military Cashbooks”.
Daar is lank aanvaar dat die kasboeke van die Gemeente Stellenbosch van voor 1725 en ander soortgelyke dokumentasie oor die vroegste jare van die gemeente verlore gegaan het, moontlik in die brand van 1712 wat die eerste kerkie en die grootste deel van die destydse dorpie verwoes het. In 2000 het hierdie dokumente weer aan die lig gekom ( Sien Capensis 2/2001) Die kasboeke van ná 1725 is apart gehou en díe van die Kerkraad is in die versameling by die N G Kerkargief opgeneem.
Hieronder verskyn uittreksels uit die vroegste kasboeke waarin (vir sommige jare) name aangegee word vir wie (in sommige gevalle deur wie) “kerkelijke gerechtigheden” (begrafnisgelde) aan die koster betaal is:
1700

STB 12/15 (p 47)
6 jul – wed Jan Margera f6
– van Gerrit Cloete f6
– van Cobis van As f6
– van Christoffel Esterhuijs voor een kint f3
6 aug – van Jan Stevens Botma f30
– wegen Trijntie van Wijck f6
– een kint van Willem Nel f3
4 okt Plauc? Boudijn

STB 12/15 (p 49)
15 dec – Abram Pijl voor twee kinderen f12
– van wed Holders f6
– van Pieter Gersz f6
– Aernout Jans f6
– Bartholomeus Koopman voor een kind f3
1702

STB 12/15 (p 64)
11 feb Fijtie vanden Tempel f6
1708

STB 12/16 (p 57)
26 jul Trijn Ras f6
12 aug een kind van wed N. Cleef f3
12 aug een kind van Arij van Wijk f3
18 sep een kind van Arend Gildenhuijs f3
26 sep Pieter van Hern f6
26 sep Pieter Rochefort f6
15 dec Jean du Plessi f6
15 dec vrouw van Jan Elsevier f6
1709

STB 12/16 (p 94)
Jacobus van Driel f6
Johannes Bockelbergh f6
een kind van Harmanus van Brakel f3
1712

STB 12/17 (p 17)
15 jan voor dood van juffr. Elberts op 19 dec
15 jan kind van Jan Nieman f3
15 jan kind van Ferdinandus Appel f3
13 dec Abraham Evertsz voor kerken geregtigheit f6
13 dec kind van Hendrik Scheffer f3
1713

STB 12/17 (p 36)
Pieter Robbertsz f30
Jan Elbertsz f6
Francina f6
Sara Jansz wed wijlen Andries Oelofsz f6
Jacobus van Eden en desselvs vrouw f12
de vrouw van Jan Mahieu f6
Gerrit Cloete f6
Willem Elbertsz f6
Arij van Wijk f6
Susanna Odendaal f6
Jan Cornelisz van Oudbeijerland f6
Wessel Pretorius met zijn vrouw en kind f18
Maarten Slabbert f6
de vrouw van Gerrit Roomond f6
Isaak Elbertsz f6
Ferdinandus Appel f6
Heijltie Holder f6
Catrina Saaijman met haar man f12
(waarsk Catrina Snyman en haar man Johannes Viljoen)
Michiel Meester f6
een kint van Pieter Willemsz Africano f3
twe kinders van Hans Conterman f6
een kint van Anthonij Vlotman f3
drie kinders van Klaas vande Westhuijsen f9
Claas Elbertsz f6
Dirk Coetse de jonge f6
Jacob Cloete f6
Coenraat Cloete f6
Pieter Cloete f6
1714

STB 12/17 (124)
ult feb Jan Mathieu zijn overleede huijsvrouw f15
ult feb Sara Couchet
Sara Coechet f6
Judik Smit f30
Susanna Beijer f6
Michiel Romondt f30
Gerrit Holder f6
Willem Terlingh f6
Pieter de Groot f6
de vrouw van Casper Batenhorst f6
Arije van Eeden f6
1715
STB 12/17 (p 48)
Catarina Kloeten f6
de wed Vanden Brink f6
Pieter Eeldijk [E onzeker] f6
Jakobus van den Bergen f6
een kind van diti Vanden Bergen f3
Jan van Eden f6
Uittreksel uit Biewenga se aantekeninge uit G2 9/a
(Hierdie dokument was wel aan A M Hugo bekend)
Grond vir die nuwe kerkhof rondom die huidige Moederkerk is toegeken 1717
1725
10 dec doodskist van Harme Pal.. f15
9 mrt Harme Palmer f12
28 apr kind van Christoffel Smit f6
2 jun kind van Dirk Uijsch f6
13 jun kind van Willem van Staden f6
24 jun van Johannis van Breinen f12
3 aug kind van Hendrik Scheffer f6
5 aug van Weijer Hendrikse f12
16 sep Muntersz f34:14
1726
1 jan Johanijs Kaarelse v.d. Burgh f12
1 jan Roelof Henke van Nel f12
1 jan Roelof Jonasse f12
feb Jan Lubben f12
feb Johannes Grevenbroek f30
feb Hendrik Frikkensz f12
feb kind van Pouwel Keijser f6
feb huisvrouw van W. d. Vos f12
feb Frans Lubben lijk f12
feb Kristina Vlok lijk f12
feb Jacobus van der Heijden f12
1728
11 apr Aletta Munters f7:8 graf f3
8 jun wed Munters en Rudolf Rigt f24
14 nov Matthijs Diderikse f12
1729
17 mrt Jan Jacobsz van Langendorp
27 dec Rudolf Rigt f7:8
Die twee oudste gedokumenteerde grafte op Stellenbosch
(Uit Capensis 4/2004 pp. 45-47)
In ‘n brief van Simon van der Stel aan die Landdros en Heemrade van Stellenbosch gedateer 27 September 16921 gee hy toestemming “an des afgestorvene weduwe” (van “de heemraad en capn der dragonders Henderik Elberts-soon ontijdig … des wereld t overlijden”) om “haar man in de kerk an Stellenbosch ter aarde te besteden, mits dat sij in tijd en wijle den vereijschten grav en voor-regts briew bij ons erlangen, waar op ons verlatende blijven, …”


Is dit die oudste gedokumenteerde begraafplek op Stellenbosch en wel “in de kerk” wat ingewy is op 19 Oktober 16872 en afgebrand het op 17 Desember 17103? Oud-landdros en oud-ouderling Johannes Mulder se vrou is blykbaar ook in hierdie eerste Stellenbosse kerkie begrawe4 want die notule van die kerkraadsvergadering van November(?) 17175 lui “Voorgestelt en geresolveert om het lijk van d’ overleden huijsvrouw van d’ Heer Joannes Mulder van uyt de ruijnen van d’ oude Kerk optenemen, en te verplaats in het plein van de nieuwe te bouwene kerk.” Die vraag ontstaan dus wanneer sy daar begrawe is.
Volgens de Villiers en Pama6 is Johannes Mulder op 13.12.1682 getroud met Jacoba Kichelaar of Kicheler en is sy jonk oorlede (wat foutief is, soos later sal blyk). Verskeie afskrifte van hierdie kinderlose egpaar se testamente het behoue gebly. In hul testament van 20 Julie 17167 word hulle beskryf as “E Johannes Mulder oud landdrost van Stellenbosch en Drakesteijn en juffr Jacoba Kichelaar te samen en egte luijden, beijde van bedaagden ouderdom, wonende op haar plaats en hofstede Sorgvliet, …” (In hierdie testament word ‘n halwe bladsy daaraan gewy om vorige testamente nietig te verklaar!)
Benewens ander bepalings is daar ‘n vooraflegaat “te maken aan de diaconij armen van Stellenbosch de somma van tweehondert gulden Caabse waarde”.
Hierdie legaat kom ter sprake in die notule van die kerkraadsvergadering van 4 Februarie 17178 in ‘n deel wat ongelukkig erg beskadig is en waarin te lees is:

[…] Mulder, en sijn Es overlede Huijsvrou
[…] ment aan de diaconie armen van Stell
[…] hadden twehondert gls, en dat sijn E
[…] die penn(ingen) aftegeven, soo wanneer
[…] wilde belooven, om het gesonke lyk […]
[…] tegenwordige kerk optenemen en weder
[…] bequaamd grafstede van d’aa
[…] t geen voorgesteld soo heeft
[…] bekoomen en dit notultie aan
Henricus Beck
Die afleiding is onafwendbaar dat Mulder, ten spyte daarvan dat die testament bepaal dat die gelde “door de langslevende … moeten uijtgekeert werden en zulx zonder meer”7, voorwaardes gestel het vir die uitbetaling van die erflating.
Dit is duidelik dat toe Jacoba Kichelaar omstreeks einde 1716 oorlede is, sy in “de ruijne van d’ oude Kerk” begrawe is. Oudlanddros Mulder was blykbaar vas oortuig dat daardie kerkie in herboude gedaante, waarvoor hy hom beywer het9, ‘n waardige laaste rusplek vir sy oorlede vrou sou wees. Kort hierna het Mulder blykbaar snuf in die neus gekry dat, “skielik” soos Hugo dit stel10, daar ‘n beweging is om ‘n nuwe kerk te bou, soos trouens op die kerkraadsvergadering van 4 Februarie 1717 besluit is, maar op ‘n heel ander plek. Heel menslik gebruik die oudlanddros toe die erflating om die kerkraad te beweeg om in November 1717 die herbegrafnis van sy vrou te onderneem.

deur argeologiese opgrawings. Dit is tans nog te sien in die kelderverdieping van die restourant in De Oude Werf.
Kan dit dalk Jacoba Kichelaar se eerste graf wees?
(Met vergunning van Hennie Vos)
Johannes Mulder is volgens latere boedeldokumente11 tussen Junie en Augustus 1732 oorlede en in die nuwe kerk in graf 16 begrawe12.
Om tot die vraag hierbo terug te keer: Die finale rusplek van Hendrik Elbertsz in 1692 is dus wel (tot dusver) die oudste gedokumenteerde in Stellenbosch. Dit sal genealoë interesseer dat sy nageslag, beide van manlike en vroulike kant, blykbaar uitgesterf het13. Sy sterfdatum, Oktober 1696, soos in SAG aangegee, is foutief.

is die van Johan(n) Kuster/Koster “van Lockstedt Baas Smidt” (geb. 21.10.1736 oorl. 14.11.1796) op Scholtzenhof.
Verwysings
- KAB C1391 pp. 73 en 74
- AM Hugo & J v d Bijl “Die Kerk van Stellenbosch”, Tafelberg, Kaapstad (1963) p. 21
- Ibid p. 34
- Ibid p. 86
- Stellenbosch Kerkraadsnotules [November?] 1717
- CC de Villiers & C Pama “Geslagsregisters van die ou Kaapse Families“, Balkema, Kaapstad (1966)
- KAB MOOC 7/1/2; 79 & 80
- Stellenbosch Kerkraadsnotules 4 Februarie 1717
- Hugo & v d Bijl pp. 53 & 54
- Ibid pp. 49 & 50
- KAB MOOC 7/1/4; 123
- Hugo & v d Bijl p. 227
- JA Heese & RTJ Lombard “Suid-Afrikaanse Geslagregisters” Deel 2, p. 177 RGN, Pretoria (1989)
- Vgl. JA Heese & RTJ Lombard “Suid-Afrikaanse Geslagregisters” Deel 4 p. 420
‘n Lys van persone wat in die kerk begrawe is
Opgawe van Persone wat in die Kerk begrawe is, sover bekend 1730-1810
Die Doderegister van Stellenbosch begin eers in Januarie 1765. Van sterfgevalle vóór daardie datum het ons slegs gefragmenteer inligting soos uit die Kasboek van Stellenbosch. ‘n Ander belangrike bron is die lys wat prof A. M. Hugo, medeskrywer van die boek “Die Kerk van Stellenbosch“, in 1960 in die konsistorie van die Moederkerk gevind het. Dit is ‘n onsistematiese lys van 98 name in verskillende handskrifte, elkeen voorafgegaan deur ’n nommer, sonder enige sisteem agtermekaar neergeskrywe. Die lys is klaarblykbaar baie onvolledig maar baie waardevol, veral waar geen ander inligting beskikbaar is nie. Die laaste nege name is in die handskrif van ds. Appeldoorn wat oorlede is in September 1772; dus weet ons presies hoe oud die lys is. Met die uitsondering van die predikantsgrafte weet ons ongelukkig nie waar in die kerkgebou hierdie persone begrawe lê nie.

ter ere van die vier predikante wat daar begrawe lê, met die weerkaatsing van die preekstoel se voetstuk in die agtergrond.
In die boek “Die Kerk van Stellenbosch” verwys die skrywers na drie predikantgrafte langs mekaar in die kerk, nommers 31, 32 en 33. Dit was destyds algemeen die gewoonte in die Kaapse gemeentes om die ontslape predikante voor die preekstoel te begrawe. Alhoewel die posisies van die ander grafte in die kerk onbekend is, kan dus met veiligheid aangeneem word dat hierdie drie grafte die sentrale plek in die kerkvloer, vlak voor die preekstoel, sou ingeneem het en dat hier begrawe lê vier opeenvolgende predikante van Stellenbosch:
- Graf 31. Ds. Eduard Arentz, oorlede 8 Jul. 1749, en een van sy kinders;
- Graf 32. Ds. Willem van Gent, oorlede 10 Okt. 1744;
- Graf 33. Ds. Johannes Appeldoorn, oorlede 20 Sept. 1772, en drie van sy kinders, asook sy skoonseun en opvolger ds. Philippus Kuys, oorlede 29 Jan. 1785.
Die skrywers spreek die wens uit dat die gemeente op hierdie plek ’n sigbare herinnering aan hierdie vier leraars sal oprig, soos die voorbeeld van die Tulbaghse gemeente, wat in hul ou kerk ’n groot koperplaat in die vloer voor die preekstoel ingelaat het waarop die name van die vier leraars Meiring, Vos, Ballot en Kicherer, wat daar begrawe is, gegrafeer is.
Hierdie wens is enkele jare later vervul toe bostaande koperplaat in die kerkvloer ingebou is.
Prof Hugo se medeskrywer, mnr Johannes van der Bijl het uit gepubliseerde en ongepubliseerde bronne kort aantekeninge opgestel om die genoemde persone nader te identifiseer. Die afkortings DR en KB hieronder verwys onderskeidelik na die Doderegister (vanaf 1765) en die Kasboek (vanaf 1725) van Stellenbosch.
“Die Kerk van Stellenbosch”, A M Hugo & J van der Bijl, Tafelberg, Kaapstad, 1963
1. Sophia van der Merwe en Catrina Pasman. – Gekoop teen ƒ100. deur weduwee Robberts, 28 November 1734.
Sophia van der Merwe (1670) is in 1684 getroud met Roelof Pasman van Rustenburg, Idas Vallei, en in 1696 hertroud met Pieter Robberts, ook van Rustenburg, en landdros van Stellenbosch 1703 – ’05. Sy het die graf gekoop, en is dus na 1734 oorlede. Haar dogter Catharina Pasman (1691), getroud 1713 met die wewenaar Philip Morkel van Onverwacht (nou De Bos), Hott.-Holland, is oorlede op 23 Maart 1764, en ook in hierdie graf by haar moeder weggelê. Drie van Sophia v. d. M. se kleinkinders is begrawe in graf no. 4; haar man Philip (oorl. 1735) en haar seun Willem Morkel in graf no. 96.
2. Jacob Cloete. – Gekoop teen ƒ100. deur ouderling Jacob Cloete, 1734.
Jacob Cloete (1699), kleinseun v. d. stamvader, is in 1722 getroud met Sibilla Pasman (1693), wed. J. A. Loubser en dogter van Roelof Pasman, vgl. no. 1. Loubser was eienaar van Nooitgedacht, Koelenhof, en na sy huwelik met die weduwee het Cloete die plaas oorgeneem. Vgl. nos. 5 en 87.
3. Juffrouw Meijburgh de oude. – Gekoop deur Albert Mijburgh van Klein Idas Vallei, 1746.
Hierdie Juffr. M. was waarskynlik Albert se stiefmoeder, Sophia Zank, wed. Hendrik Leemhold, hertroud 1699 met Albert se vader, Jan Mijburgh, stamvader v. d. familie. Sy is oorlede in 1759 (KB).
4. Twee kinders van Willem Morkel, een kind van Jan Mijburgh. – Gekoop deur Catharina Pasman, wed. Morkel, 1746.
Willem Morkel, seun v. d. stamvader Philip M., was boer op Onverwacht, vgl. no. 96; hy is getroud (i) 1749 met Sara van Brakel, dogter van Hermanus van B., swaer van Adam Tas, en (ii) 1759 met Helena Catharina Malan (1736), dogter van Daniel Malan, vgl. no. 86. Die twee kinders, oorlede 1769 en 1771 (DR), was dus kleinkinders v. d. wed. Morkel wat die graf gekoop het. – Die ander kind was klein Philip Mijburgh, oorl. Mei 1746, een jaar oud. Die vader was Johannes Albertus Mijburgh (1719), van Eenzaamheid, Klapmuts, en Meerlust, Eersterivier, seun van Albert (no. 3); hy is getroud 1743 met Sophia Marg. Morkel (1715), ’n dogter van Catharina Pasman. Ook hierdie kind was dus haar kleinkind.
5. Hendrik Cloete de oude. – Gekoop deur Hendrik Cloete, 1750.
Hendrik C. (1725)was ’n seun van Jacob C. van Nooitgedacht (no. 2), en het self ook daar geboer. Hy het die groot huis gebou wat nog daar staan, tans bewoon deur mev. Werth. Sy seun, Hendrik C. de jonge, het die ou woonhuis op Groot Constantia herbou tot sy huidige vorm. Hendrik de oude is oorlede 12 November 1799, oud 74 jaar (DR), en volgens die DR is hy ,,den 13den na Constansia gebragt”, d.w.s. daar begrawe. Dan beteken dit dat hy nie self in die kerk van Stellenbosch begrawe is nie.
8. Jacob Malang en Elisabeth de Long (sic), en twee kinders van Daniel Malaan. – Gekoop teen ƒ150 deur Daniel Malan, 1736.
Jacques Malan, stamvader van die familie, is rondom 1690 in hierdie land getroud met Elizabeth le Long, wed. Jean Jourdan. Hy het geboer op Morgenster, Hott.-Holland, en is oorlede 1742 (KB). Daniel (no. 86) was sy seun. Jacques Malan het baie jare lank op die kerkraad van Stellenbosch gedien.
9. Johan Philip Giebelaar, en vier kinders van Melk. – Gekoop teen ƒ100 deur J. P. Giebelaar, 1747.
Johan Philipp Giebeler van Nassau-Dillenburg, boer van Elsenburg, is getroud 1742 met Anna Margaretha Hop, dogter van Jan Hop van La Roque, Franschhoek. Sy weduwee is in 1752 hertroud met Martin Melck. Giebeler is oorlede in 1746 (KB), en Anna M. Hop is oorlede 22 Mei 1776 en in die kerk van Stellenbosch begrawe, waarskynlik in hierdie graf. Martin Melck is begrawe te Kaapstad (waarskynlik in die Lutherse kerk), 29 Februarie 1781 (DR).
16. Johannis Mulder en Simon Petrus Bek.
Johannes Mulder, eerste landdros van Stellenbosch 1685 – ’91 en 1711 – ’13, het geboer op die plaas Hoopenburg (nou Muldersvlei); hy is oorlede in of voor 1732 (KB). – Bek is onbekend. Ds. Henricus Beck het ook geen bloedverwant van dié naam in die land gehad nie.
26. Gerrit Romont en Michiel Romont.
Gerrit, seun van die stamvader, was boer op die plaas Helderenberg (so was die naam), Hott.-Holland; oorl. c. 1741 (KB). Sy seun Michiel het ook daar geboer; hy is oorlede 6 Augustus, begrawe 8 Augustus 1766 (DR).
30. Twee kinders van Mynheer van Schoor. – Gekoop deur Adriaan van Schoor, 1756.
Adriaan van Schoor (seun van die stamvader), landdros van Stellenbosch 1748 – 1763, is getroud 1744 met Susanna Cruywagen. Hy was eienaar v. d. plaas Welgevallen 1752 – 1763.
31. De Heer Eduwaart Arents, en een kind van Mynheer Arents.
Eduard Arentz, gebore te Embden, Oos-Friesland, c. 1714, as student in die teologie te Groningen ingeskryf 1731, proponent 1738, deur die Klassis Amsterdam vir ’n gemeente aan die Kaap beroep 1747, het met sy vrou Sara Christina van Steenwyk en hul vier kinders na die Kaap gekom, en het op Sondag 26 November 1747 sy intreepreek as predikant van Stellenbosch gehou. Te midde van sy werksaamhede is hy op 8 Julie 1749 hier oorlede, en in die kerk begrawe langs sy ontslape voorganger Van Gent.
32. De Heer Willem van Gent.
Wilhelm van Gendt, geboortig van Maastricht (Limburg), in 1714 in die bediening getree, sedert 1723 predikant te Harderwijk aan die Zuiderzee, het in 1738 met sy drie kinders as wewenaar na die Kaap gekom, waar hy in Desember sy pligte aanvaar het as predikant van Stellenbosch, opvolger van Van Echten. Enkele maande na sy aankoms (8 Maart 1739) is hy hier hertroud met Catharina Groenewald, ’n jong meisie van Stellenbosch. In die nag van 9 op 10 Oktober 1744 is hy oorlede; sy weduwee het met twee kinders agtergebly, en is twee jaar later hertroud met die chirurgyn Johannes Cats, vgl. nos. 87 en 94.
33. Drie kinders van de Heer Appeldoorn. D’Eerw. Heer Johannes Appeldoorn (DR). Den Eerwaarde Heer Philippus Kuys (DR).
Johannes A. is gebore te Harderwijk, Mei 1725, dus in die tyd toe Van Gendt nog daar predikant was. Nadat hy in 1748 sy studie aan die Geldersche Hoogeschool te Harderwijk voltooi het, het hy in 1753 in diens van die Kompanjie na die Kaap gekom, waar hy op 16 Desember daardie jaar sy intrede gedoen het as pred. van Stellenbosch. In hierdie land is hy getroud met Cornelia Heijning, November 1753; hulle het sewe kinders gehad; die drie jongstes, oorlede 1765, 1768 en 1770 (DR), is in hierdie graf begrawe. Ds. Appeldoorn self is midde in sy werk oorlede op 20 September 1772, in sy 48ste jaar, en op 22 September is hy in hierdie graf weggelê, by sy kinders en langs sy ontslape kollegas en voorgangers Van Gendt en Arentz.
Philippus Kuys, gebore te Vreeswyk, naby Utrecht, in die jaar 1754, is in 1776 saam met sy jongere broer Johannes tot die bediening toegelaat, en het daarop saam met hom ook na die Kaap gekom. Johannes is benoem tot predikant van Waveren, Philippus tot predikant van Stellenbosch, waar hy op Sondag 18 Mei 1777 sy intreepreek gehou het. Op 18 Maart 1778 is hy getroud met Geertruida Appeldoorn, die oudste dogter van sy voorganger. Hulle het twee kinders gehad, waarvan die een, Arnoldus G. M. Kuys, te Leiden in die teologie gestudeer het en later predikant was in die gemeentes Napier en George. Ds. Philippus Kuys was nie ’n sterk man nie, en nog voor sy veertigste verjaardag is hy op 29 Januarie 1785 ,,aan de gevolgen van eene uitteerende ziekte” oorlede. Drie dae later is hy begrawe ,,in kerk in de graf van de Heer Appeldoren nommer 33” (DR).
(Die meeste v. d. besonderhede aangaande hierdie vier predikante is ontleen aan Engelbrecht, Die Kaapse Predikante v. d. 17de en 18de Eeu, H.A.U.M. 1952.)
34. Twee kinders van de Heer Lesueur.
Jacobus Johannes le Sueur (1734 – 1807) was landdros van Stellen-bosch 1763 – ’69, later advokaat te Kaapstad; getroud 1763 met Hillegonda de Wet. Die twee kinders wat hier begrawe is, was waarskynlik Franciscus (1764) en Johannes Carolus (1765), begrawe in die jare 1766 en ’67 (DR). ’n Jongere kind, ook Johannes Carolus (1771), het in 1795 sy doktorsgraad in die regte aan die Utrechtse Akademie verwerf, en het in later jare magistraat van Worcester geword. (Vgl. Suid-Afrikaners in Utrecht, 1762 – 1954, Kemink & Zoon, Utrecht.)
39. Jacobus Faure, Arnoldus Schephaut, Juffrouw Romont, en ’n kind van Adriaan van Brakel.
Jacobus Faure (1727 – 1744), seun v. d. stamvader Antonie Faure, was koster van die kerk, en is in sy sewentiende jaar oorlede.
Arnoldus Schephausen, gebore 1697 in die Ruhrgebied, het in 1730 as soldaat na die Kaap gekom; getroud 1736 met Emmerentia Steyn (vgl. no. 86), sedert 1741 woonagtig op Stellenbosch as sekretaris van Landdros en Heemrade; oorlede 1748. (Hoge, Pers.)
Wie die Juffr. Romont was, is onseker, omdat die jaartal van haar dood vir ons onbekend is; sy kon die vrou van Gerrit Romont gewees het, of ook wel van sy seun Michiel, vgl. no. 26.
Adriaan van Brakel (1714 – 1779), seun v. d. stamvader, het geboer op Brakelsdal en Bonte Rivier, albei in Moddergat; getroud 1743 met Johanna Maria Delits; oorlede 2 Desember, begrawe 4 Desember 1779 (DR). Een van sy kinders lê in no. 65, twee in no. 91. Ook sy vrou, Joh. Delits, is in die kerk begrawe, op 4 September 1773 (DR), waarskynlik in graf 65.
Hierdie graf (no. 39) is ’n goeie voorbeeld van die gevalle waar die mees verskillende persone in een graf begrawe is. Dit is vir ons nie meer moontlik om uit te maak hoe dit gebeur het nie.
41. Antonij Faure en een kint.
Anthonie Alexander Faure (1685 – 1736), stamvader v. d. familie, is in 1714 getroud met Rachel de Villiers, dogter v. d. stamvader Abraham de Villiers. Hy was voorleser en skoolmeester van Stellenbosch 1719 – 1736. Twee van sy kinders lê in no. 42, een saam met hom in hierdie graf, en sy 17-jarige seun Jacobus in no. 39. Sy vrou Rachel, wat na sy dood gaan woon het op die erf van die Ou Uitspan (Evergreen), is oorlede 2 September, en in die kerk begrawe 4 September 1773 (DR).
42. Twee kinders van Antonij Faure. Sien no. 41.
46. Maria van Brakel, weduwee Valk.
Maria van Brakel, geb. 1677, skoonsuster van Adam Tas, tante van Adriaan van B. (no. 39), was eers getroud met Jacobus Louw, vader van Jan Louw (no. 51), daarna met Jan Valk van Elsenburg. Na Valk se dood het Giebeler in 1742 die plaas van die weduwee gekoop.
48. Hester Pas en een kint van Jan Jurgen Haman.
Hester Pas, geb. 1726, was ’n dogter van Willem Pas (no. 49). Johann Jürgen Hammann (so het hy sy naam geteken) van Kursachsen, stamvader v. d. familie, het as smid in 1732 na die Kaap gekom, en is in 1738 getroud met Johanna Margaretha Gildenhuysen, niggie van Margaretha (nos. 59 en 95). Hulle het tien kinders gehad. (Hoge, Pers.) Hammann word in 1753 genoem as smid op Stellenbosch (KB).
49. Willem Pas en Dirk Mol.
Willem Pas van Zandvliet, Eersterivier, en Bij den Weg (nou Bonfoi) Stellenboschkloof, is in 1725 getroud met Emma van der Bijl, wed. Willem van Taak, suster van Gerrit v. d. Bijl (no. 55). Hy is oorlede in of voor 1735.
Dirk Jacobus Mol, heemraad van Stellenbosch, het voor Willem Pas op Bij den Weg geboer. In die stukke van rondom 1705 word hy beskryf as ’n gebreklike grysaard met net een oog; oorlede 1733 (KB).
50. Nicolaas van den Heuvel, een kint van Olof de Wet, een kint van Barent Nieukerk.
Nicolaas van den Heuvel, landdros van Stellenbosch 1713 – 1717 en baie jare lank lid van die kerkraad, het op die plaas Bethlehem (Banghoek) geboer tot aan sy dood, 26 April 1732. Hy is in 1713 getroud met Maria Zegers: hul dogter Aletta Hendrina (1725) het die vrou geword van Bernardus van Nieukerk (of Nijkerk), boer v. d. plaas Delta, Gr. Drakenstein. Dit verklaar waarom sy kind hier begrawe is.
Olof de Wet, geb. 1699, seun v. d. stamvader, is in 1735 getroud met die wed. Van den Heuvel, en het daarna op Bethlehem geboer tot 1758, wat waarskynlik die jaar van sy dood was. Vgl. nos. 71 en 72.
51. Pieter de Vos, en ’n kind van Jan Louw Jacobz. – Gekoop vir f100 deur Elizabeth Morkel, wed. Wouter de Vos, 1731.
Pieter de Vos, geb. 1723, was ’n seun v. d. stamvader Wouter de Vos, wat getroud was (i) 1712 met Maria van der Bijl, suster van Gerrit (no. 55), en (ii) in 1728 met Elizabeth Morkel, dogter van Philip (no. 1). Wouter de Vos het in 1722 die plaas Libertas uit die boedel van Adam Tas gekoop.
Johannes Louw Jacobsz. (geb. c. 1715) is in 1732 getroud met die bogenoemde weduwee Wouter de Vos. Hy het op sy vrou se plaas Libertas geboer.
53. Andries Schut, Jan Christoffel Grundlingh, Alewyn Scheepers.
Andries Schutte, boer van Welmoed, Eersterivier, is in 1725 getroud met Hester van der Heyden, wed. Izaak Scheepers, vgl. no. 59. Hy is oorlede 2 April, begrawe in die kerk op 4 April 1765 (DR).
Alewyn Scheepers, geb. 1715, was ’n seun van bogenoemde Izaak S. wat in 1713 getroud is met Hester v. d. Heyden. Izaak het geboer op Laatste Gift, Hott.-Holland. Hierdie graf is deur die kerkraad aan hom present gegee vir sy ,,goeie dienste” i.v.m. die ongelukkige lotery ten tyde van die oprigting van die kerk (vgl. Hoofstuk II), en in 1724 kon hy al daarvan gebruik maak. Dit is vreemd dat die ou lys sy naam weggelaat het.
Johann Christian Gründling, stamvader, afkomstig van Görlitz, het in 1745 aan die Kaap gekom, en is in 1749 getroud met Jacoba van der Heyden, ’n broerskind van die bogenoemde Hester. Hulle het agt kinders gehad. (Hoge, Pers.) Hy is oorlede te Stellenbosch 27 Mei, begrawe in die kerk 30 Mei 1765 (DR).
55. Hester te Winkel, wed. Van der Bijl; Catharina van der Bijl, Gerrit van der Bijl, en drie kinders van laasgenoemde. – Gekoop vir f100 deur Hester Terwinkel, 1725.
Hester T. is in 1702 getroud met die wewenaar Pieter van der Bijl, seun v. d. stamvader Gerrit v. d. Bijl. Pieter en sy vader het op Vredenburg (langs Libertas) geboer. Pieter is oorlede 1722, sy vrou Hester in of voor 1744.
Catharina van der Bijl, geb. 1710, dogter van Pieter, is in 1728 getroud met Pieter Lourens, vgl. no. 56. Sy is oorlede voor 1748.
Gerrit van der Bijl, geb. 1704, seun van Pieter, het ook op Vredenburg geboer. Hy was ook eienaar van Joostenberg, Muldersvlei, waar hy in 1756 die nog bestaande woonhuis gebou het wat onlangs pragtig herstel is deur die huidige eienaar, mnr. P. A. Mijburgh. Hy is oorlede 5April, begrawe 8 April 1767 (DR). Vier van sy susters is ook in hierdie kerk begrawe: Geertruy (no. 56), Emma (no. 49?), Catharina (no. 55), en Anna; asook twee van sy swaers in no. 56, en ’n derde in no. 49.
56. Burgert Brant, Pieter Lourentz, de wed. Hermanus van Brakel, een kint van Gerrit van der Bijl, een kint van Burgert Brant.
Burchard Heinrich Brand, geb. in Hamburg, was aan die Kaap as soldaat 1712 – 1716, weer terug van Ceylon in 1726, getroud 1730 met Anna van der Bijl, geb. 1703, dogter van Pieter v. d. B. Hulle het gewoon op Joostenberg, Muldersvlei, en is albei voor 1752 oorlede, Anna ná haar man. Hulle was die oorgrootouers van Sir Christoffel Brand. (Hierdie Brand se vader, ook Burchard, was in 1686 al burger van Stellenbosch, en het later in die Kaap gaan woon. ’n Ander seun, Christoffel, gebore aan die Kaap, is in 1722 getroud met Sara van Brakel.)
Pieter Lourens (vgl. no. 55) was landdros van Stellenbosch van 1729 tot aan sy dood in 1748. Sy vrou Catharina v. d. Bijl is voor hom oorlede.
Geertruy van der Bijl, geb. 1689, is in 1708 getroud met Hermanus van Brakel, seun v. d. stamvader. Sy is die ,,nonje Geertruy” van wie Adam Tas in sy dagboek meermale melding maak. Na haar man se dood omstreeks 1728 het sy die plaas Brakelsdal oorgemaak aan haar seun Adriaan (no. 39), en in Dorpstraat kom woon in die huis tans bewoon deur mev. Bob Loubser. Sy is oorlede 25 Jan., en in die kerk begrawe 27 Januarie 1765 (DR).
57. Daniel van der Lit, Juffr. van der Lit de oude, de vrouw van Daniel van der Lit, en een kint. – Gekoop 1730 deur Antoinetta van der Lith teen ƒ100.
Anthonie van der Lith, die stamvader, was getroud met Antoinetta Schragen, en hul seun Daniel is in 1736 getroud met Johanna de Jong. Anthonie het op die plaas Koelenhof geboer vanaf die jaar 1704, en sy seun het dit in 1734 uit die boedel oorgeneem; na sy dood, in 1754, het Martin Melck dit gekoop. Juffrou van der Lith de oude (die wed. Anthonie v. d. Lith) is oorlede in 1744 (KB), en Johanna de J. in 1752.
59. Hester van der Heyden, een kint van Jan Louw Pieterz.
Vir Hester v. d. Heyden, sien no. 53.
Jan Louw Pietersz, geb. 1694, boer van Aan’t Pad, tans Cloetesdal, naby die dorp Stellenbosch, is in 1725 getroud met Margaretha Gildenhuysen, ’n niggie van Hester v. d. Heyden. (Hester se moeder en Marg. se vader was broer en suster, vgl. no. 95.) Jan Louw is oorlede 18 Maart, en in die kerk begrawe 21 Maart 1770 (DR)
65. Een kindt van Adriaan van Brakel. Sien no. 39.
71. D’ vrou van Olof de Wet. Sien no. 50. Was dit Maria Zegers, of ’n tweede vrou?
72. Maria van den Heuvel. Sien no. 50. Was dit die wed. Van den Heuvel, of haar dogter?
76. Anna Sophia de Vos. – Gekoop in 1750 deur Arnoldus Maasdorp.
Arnoldus Maasdorp, geb. c. 1711, seun v. d. stamvader, eienaar van ’n deel van Vergelegen, Hott.-Holland, is getroud (i) 1734 met Anna Sophia van Brakel, dogter van Hermanus van Brakel (no. 56), en (ii) 1749 met sy eerste vrou se niggie en naamgenoot Anna Sophia de Vos, gebore 1720, dogter van Wouter de Vos en Maria Sophia van der Bijl (sien no. 51); en ten slotte (iii) 1752 met Elsabe le Fèbre, dogter van Gysbert le Fèbre. Sy tweede vrou is in hierdie graf begrawe, sy eerste vrou, met drie kinders, in graf no. 97.
80. Jacobus Leroes.
Jacobus le Roux, geb. 1709, was ’n seun v. d. stamvader Jean le Roux van Normandië, eienaar van Welgevallen, Stellenbosch, 1723 – 1752.
86. Juffrouw Malaan en Juffrou Malaan de oude. Daniel Malan (DR). – Gekoop deur Daniel Malan, 1750.
Daniel Malan (1703 – 1770), boer van Morgenster, was ’n seun van die stamvader Jacques Malan (no. 8). Daniel is getroud (i) 1724 met Marie Verdeau, wed. Pierre Jourdan van die plaas Cabrière, en (ii) 1750 met Emmerentia Steyn, wed. Schephausen (vgl. no. 39), dogter van Jacobus Steyn. – Die ,,Juffr. Malaan de oude” kan nie Daniel se moeder Elis. le Long gewees het nie, want sy is met haar man in graf no. 8 begrawe. Dan was dit ongetwyfeld sy eerste vrou, Marie Verdeau; en
die ander ,,Juffr. Malaan” was dan sy tweede vrou, oorlede 1758 (KB). Daniel Malan is oorlede 25 Januarie, in die kerk begrawe 28 Januarie 1770 (DR).
87. Jan Cloete.
Jan Cloete, geb. 1687, kleinseun v. d. stamvader en neef van Jacob (no. 2), is getroud (i) c. 1714 met Johanna Olivier, (ii) met Petronella van der Merwe, suster van Sophia (no. 1); en (iii) 1719 met Geertruy Pretorius, wed. Johannes Wessels. Jan Cloete was eienaar v. d. plaas Idas Vallei; Johannes Wessels was eienaar v. d. plase Vredenburg en Vlottenburg, en toe Jan met sy weduwee trou, het hy daar gaan boer. Jan C. is in of voor 1742 oorlede; sy dogter Petronella C. was die eerste vrou van die chirurgyn Jan Cats, vgl. nos. 32 en 94.
88. Hans Jacob Conterman.
Hy was die ,,Hans de Smit” van wie Tas so dikwels melding maak (vgl. Hoofstuk I); hy het eers gewoon in Ryneveldstraat, later in Dorpstraat, waar die nuwe Mankadan-woonstelle nou staan. Hy is oorlede 1734 (KB). Sy eerste vrou (1700) was Anna Catharina Cleef, dogter van Nicolaas Cleef van Groote Salze; sy tweede vrou (1720) was Martha Beyers, wed. J. Harting, vgl. no. 91.
89. Hendrik Pretorius, Barend Botman (Vlotman?)
Hendrik Pretorius, geb. 1701, kleinseun v. d. stamvader en broer van Jan Cloete se derde vrou (vgl. no. 87), het geboer op die plaas Rustenburg, Moddergat, tans Stellenrust. Hy is baie jonk oorlede in 1733 (KB), skynbaar ongetroud.
Barend Botman of Botma is vir ons totaal onbekend. Maar die vraag kan gestel word of die koster nie in sy haastigheid ’n f vir ’n b aangesien het (in kursief kan dit maklik gebeur), en Botman gelees het i.p.v. flotman (vlotman) nie. Immers, Barend Vlotman was ’n baie bekende figuur, die boer van Geduld (tussen Meerlust en Zandvliet), seun van Antonie Vlotman van die plaas Vlottenburg; oorlede 1734 (KB)
91. Juffrouw Brink, Juffrouw Conterman de oude, een kint van Adriaan van Brakel.
Andries Brink, die stamvader, is getroud (i) 1738 met Sophia Grové, dogter v. d. stamvader Andries Grové van die plaas Uitkyk, Klapmuts, en (ii) 1749 met Alida de Waal. Andries Brink het ook op Uitkyk geboer. Hierdie Juffr. Brink is waarskynlik die eerste vrou, Sophia Grové.
Juffr. Conterman de oude is die tweede vrou van Hans Conterman (sien no. 88), want sy eerste vrou is oorlede voordat grafte in die kerk verkoop kon word (1720), en sy seun Johannes is eers in 1743 getroud. Dan was dit Martha Beyers, geb. 1683, wat hier gelê het.
Vir Adriaan van B., sien no. 39.
93. Vyf kinders van Nicolaas Vlok. – Gekoop teen ƒ100 deur Nicolaas Vlok in 1744.
Nicolaas Vlok, geb. 1720, seun v. d. stamvader, is in 1739 getroud met Catharina Maasdorp, suster van Arnoldus M., no. 76. In dieselfde jaar het hy eienaar geword van Aan’t Pad (Cloetesdal), en van 1763 tot ’75 was hy eienaar van ’n deel van Vergelegen. Hy was lank op die kerkraad. Na alle waarskynlikheid is hy en sy vrou ook in hierdie graf begrawe.
94. Vrouw van Jan Cats, Juffr. Cats, een kint van Jan Cats. – Deur JanCats in 1745 gekoop vir ƒ80.
Die stamvader Jan Cats, chirurgyn, is getroud (i) 1738 met Petronella Cloete, dogter van Jan Cloete, no. 87, en (ii) 1746 met Catharina Groenewald, die wed. van ds. Wilhelm van Gendt. Cats was so ongeveer die dorps- en distriksdokter van Stellenbosch, en het van 1737 tot 1756 ’n erf in Dorpstraat bewoon.
95. Margriet Gildenhuysen, een kint van Jan Lou Pietersz. – In 1735 deur Jan Louw gekoop vir ƒ150.
Margriet G. was die vrou van Jan Louw. Sien no. 59.
96. Philip Morkel, Willem Morkel. – In 1734 deur Philip Morkel gekoop teen ƒ100.
Philip Morkel was die stamvader v. d. familie, en het vanaf 1718 geboer op Onverwacht, Hott.-Holland. Hy is getroud (i) 1708 met Maria Biebow, en (ii) 1713 met Catharina Pasman. Philip M. is oorlede in 1735 (KB); Catharina het hom met dertig jaar oorleef, en is in 1764 begrawe in graf no. 1.
Vir Willem M., geb. 1718, seun van Philip, sien no. 4. Hy het na die dood van sy bejaarde weduwee-moeder in 1764 die plaas oorgeneem; sy seun Daniel Johannes Morkel het na hom ook daar geboer.
97. Anna Sophia van Brakel; drie kinders van Arnoldus Maasdorp. – Deur Arnoldus Maasdorp in 1747 gekoop teen ƒ150.
Hierdie Anna van Brakel was Maasdorp se vrou, vgl. no. 76. Waarskynlik het hy hierdie graf by haar dood gekoop, want in 1749 is hy weer getroud.
98. Jan Leroes de Oude, Diena Leroes, Juffr. Brant.
Daar was drie stamvaders van die Le Roux-familie in Suid-Afrika: die twee broers Jean en Gabriel le Roux van Blois, en nog ’n Jean, van Normandie. Laasgenoemde is die ,,Jan Leroes de Oude” wat hier begrawe lê: ’n bekende inwoner van Stellenbosch, wie se naam dikwels voorkom in die dokumente van daardie tyd. Diena (1702) was sy dogter, en Jacobus (no. 80) sy seun.
Juffrou Brand was waarskynlik Anna van der Bijl, die wed. van Burgert Brand, sien no. 56.
Die Doderegister van die N G Moederkerk (1756 tot ongeveer 1961)
Aan die einde van 1998 het ek, as lid van die Genealogiese Genootskap van S.A., begin interesseerd raak in die begraafplase van Stellenbosch en die distrik.
Toevallig hoor ek toe by die Stellenbosse Heemkring van ‘n doderegister van die Gemeente Stellenbosch wat deur Marie-Lou Roux by die begraafplaas raakgeloop is. Kort daarna het dieselfde register tydelik by Hennie Vos van die Museum te lande gekom. Hy het toe vir die Museum en die Heemkring elk ‘n fotokopie daarvan gemaak voor hy dit weer aan die munisipale beampte terugbesorg het.
Hierdie deel van die doderegister, chronologies gerangskik, dek die periode 1874 tot September 1918.
Ek het by die Kerkargief in Kaapstad navraag gedoen en daar die volledige register vanaf 1765 tot 1873 en van Oktober 1918 tot 1946 gekry. Vir die ander periodes was daar geen lyste nie behalwe ‘n alfabeties gerangskikte lys wat strek van 1946 tot 1961. (Hierdie lys het later geblyk onvolledig te wees.) Dit het my eienaardig voorgekom dat die lys van 1874 tot 1918 nie ook in die Kerkargief was waar dit klaarblyklik hoort nie.
Ek het toe uitgevind dat ‘n deel van die Stellenbosse Doderegister vir die periode 1874-1918 in die Stadsraad se Argief in die munisipale geboue bewaar word. ‘n Besoek aan die verantwoordelike beampte, mnr Kruger, het opgelewer dat hierdie deel van die Doderegister waarskynlik in die Stadsraad se besit gekom het toe die administrasie van die begraafplaas in 1963 aan die Stadsraad oorgedra is. Hy was daarmee eens dat dit eintlik die Kerkraad se eiendom is en in die Kerkargief tuishoort.
Ek het toe die Kerkargief in Kaapstad besoek en met Ds Strydom, wat toe in beheer was, gereël dat ‘n brief aan die Munisipaliteit en die Stellenbosse Kerkraad gerig word waarin die oorplasing van die Doderegister 1874-1918 na die Kerkargief versoek word.
Ongelukkig het daar toe ‘n verwarring ontstaan tussen die grafregister (Grootboek) (wat blykbaar daagliks in gebruik was by die begraafplaas) en die Doderegister (wat in die Stadsraad se argief bewaar is) en die saak het daar doodgeloop.
Toe ek dit uitvind, het ek gereël dat Ds Strydom ‘n verduidelikende brief opstel en, nadat die Stadsraad die nodige toestemming van die Nasionale Argief gekry het, het ek persoonlik die Doderegister van die Stadsraad na die Kerkargief in Kaapstad geneem waar ds Brown, wat ds Strydom opgevolg het, dit in ontvangs geneem het.
Ek het ook van die geleentheid gebruik gemaak om ‘n volledige stel fotokopiëe van die Doderegister te maak vir die Heemkring.
In die N.G. Kerkargief was die Doderegister voorheen opgeneem in die volgende bande:
- G2 4/4 van 1765 tot 1794 (Die band bevat ook doopinskrywings)
- G2 4/5 van 1795 tot 1819 (Die band bevat ook doop- en huweliksinskrywings)
- G2 8/1 van 1820 tot 1873. Agterin is ‘n lys van die eienaars van die 25 “Verkochte Eigendoms Grafkelderen op het Nieuwe Kerkhof” (Vlakte)
- G2 8/4 van Oktober 1918 tot 1946 asook G2 8/2 en 8/3 1947-1961.
- Die register van 1874 tot September 1918 is hier bygevoeg as G2 8/5.
Die getranskribeerde Doderegister is hier beskikbaar as
Dit bevat al die inskrywings in die Doderegisters vanaf 1765 tot 1946.
Volledigheidhalwe is hier ook die inhoud van G2 8/2 & 8/3 ingesluit. Dit is ‘n onvolledige alfabetiese lys waarvan die beelde van die bladsys nie ingesluit is nie. Meer volledige inligting oor sterfgevalle ná 1946 is beskikbaar in die Grootboek.
‘n Volledige stel fotokopieë van die Doderegister en digitale beelde daarvan, is opgeneem in die Argief van die Heemkring.
Meerlust se “Plattegrond der Graff Tombe en Kerkhoff”

In die historiese opstal Meerlust aan die Eersterivier, word ‘n “Plattegrond” van ‘n begraafplaas bewaar. Dit is die plan van ‘n “Graff Tombe Kerkhoff” wat volgens die opskrif links in 1787 deur die oud-heemraad Johannes Albertus Mijburg aangelê is. Onder die opskrif regs word die begraafde persone in drie kolomme aangegee: Kolom 1 bevat die name van “Aanverwanten” wat in die “Graff Tombe” ter aarde bestel is terwyl kolom 2 en kolom 3 die name bevat van “Partikuliere Personen op’t Kerkhoff”. Die volledige transkipsie bevat 51 name, sommige waarvan ook in die kerk se Doderegister voorkom.

Hier is verder slegs grafstene uit die 20ste eeu.
Die Grootboek van begrafnisse teen Steenenbrug/Papegaaisberg
Aan die einde van 1998 het ek, as lid van die Genealogiese Genootskap van S. A. en die Stellenbosse Heemkring, begin interesseerd raak in die begraafplase van Stellenbosch en die distrik en toevallig gehoor van ‘n register van begrafnisse van die Gemeente Stellenbosch wat by die opsigter van die Papegaaiberg-begraafplaas bewaar word.
Die Grafregister (Grootboek)
Op navraag by die opsigter, mnr Van der Walt, wat ongeveer tot aan die einde van 1998 by die begraafplaas as opsigter aan diens was, toon hy toe aan my ‘n grafregister (sg. Grootboek vanaf ca 1873), waarin die grafte volgens blok en nommer gerangskik is met eienaar en dan inskrywings van wie wanneer daar begrawe is.
Die opsigter het gemeld dat hy die Grootboek daagliks nodig het in sy taak, vir begrafnisse in die ou deel van die begraafplaas, waar daar nog leë bespreekte persele was. Uit hierdie vlugtige ondersoek was dit duidelik dat die boek onvervangbare inligting bevat. Dit was egter verontrustend dat dit in daaglikse gebruik en in ‘n baie swak toestand was en op so ‘n kwesbare plek (die opsigtershuis) bewaar word. Verdere pogings om weer ‘n ondersoek van die boek te reël, het op niks uitgeloop nie.
Die Verdwyning van die Grafregister (Grootboek)
Pogings om ‘n afskrif te maak van die grafregister (Grootboek) het gelei na mev Van Niekerk van die munisipale kantoor wat verantwoordelik is vir begrafnisreëlings. Van haar is verneem dat mnr Van der Walt die diens van die Stadsraad verlaat het. Sy het toe onderneem om te sorg dat die Grootboek na haar kantoor kom sodat ‘n fotokopie daarvan gemaak kon word. Op 16 Mei 1999 kon twee fotokopieë gemaak word, een vir die Stadsraad en een vir die Heemkring. Lg. is gebind in drie volumes en aan die argivaris van die Stellenbosse Heemkring oorhandig vir bewaring.
Enkele maande later het mev Van Niekerk my die ontstellende nuus meegedeel dat die oorspronklike Grootboek, saam met die grafregisters van die ander geloofsgenootskappe, almal gesteel is! Daar was ‘n suspisie dat die betrokke persoon sou probeer om geld daaruit te maak. Hierdie gesteelde Grootboek en die gesteelde grafregisters van ander denominasies en gelowe, het (tot 2009) nog nie weer te voorskyn gekom nie.
‘n Volledige transkripsie, STBGB.xls, van die sowat 240 bladsye is hier beskikbaar. Die fotokopie van die Grootboek is beskikbaar in die Heemkring se argief.
Die munisipale graflys van 1963 tot ongeveer 2000
Die Munisipaliteit het Papegaaiberg se begraafplaas in 1963 van die N.G. Kerkraad oorgeneem. Vanaf hierdie datum hou die Munisipaliteit die grafregister op rekenaar. Ter wille van volledigheid word ‘n kopie van hierdie register van byna 13,000 name hier ingesluit. Die inligting oorvleuel tot ‘n groot mate met die inligting in die Grootboek, maar vul dit ook gedeeltelik aan.
Meer as 20,000 name met sterfdatums en aanvullende inligting word hier saamgevat. Daar is ‘n groot mate van oorvleueling tussen die verskillende registers. Vollediger inligting oor ‘n spesifieke persoon kan dikwels uit meer as een register saamgestel word. Dit is te wagte dat foute of onsekerheid kan ontstaan by transkripsies. Fotokopieë van die oorspronklike dokumente asook digitale beelde daarvan, is beskikbaar by die Argief van die Heemkring.
Erkennings
- Aan mev van Niekerk, destyds van die Munisipaliteit Stellenbosch, wat toegang gereel het tot die Grootboek en die munisipale grafregister.
- Aan mnr Hannes Myburgh van Meerlust vir toegang tot die “Plattegrond der Graff Tombe en Kerkhoff” op hierdie historiese plaas.
- Aan Sasa Malan vir hulp met die transkripsies en in ander opsigte.
- Aan Cornie Malan vir tegniese hulp.
O G Malan
Stellenbosch
2009