Die Oudste Opgetekende Begraafplek in Stellenbosch

 (Uit Capensis 4/2004 pp. 45-47)

 

Ockert & Sasa Malan

In 'n brief van Simon van der Stel aan die Landdros en Heemrade van Stellenbosch gedateer 27 September 1692. [1] (Bladsy 1 en Bladsy 2) gee hy toestemming "an des afgestorvene weduwe" (van "de heemraad en capn der dragonders Henderik Elberts-soon ontijdig …. des wereld t overlijden") om "haar man in de kerk an Stellenbosch ter aarde te besteden, mits dat sij in tijd en wijle den vereijschten grav en voor-regts briew bij ons erlangen, waar op ons verlatende blijven,…"

Is dit die oudste gedokumenteerde begraafplek op Stellenbosch en wel "in de kerk" wat ingewy is op 19 Oktober 1687 [2] en afgebrand het op 17 Desember 1710 [3]?

Oud-landdros en oud-ouderling Johannes Mulder se vrou is blykbaar ook in hierdie eerste Stellenbosse kerkie begrawe [4] want die notule van die kerkraadsvergadering van November(?) 1717[5] lui "Voorgestelt en geresolveert om het lijk van d’ overleden huijsvrouw van d’ Heer Joannes Mulder van uyt de ruijnen van d’ oude Kerk optenemen, en te verplaats in het plein van de nieuwe te bouwene kerk."

Die vraag ontstaan dus wanneer sy daar begrawe is.

Volgens de Villiers en Pama [6] is Johannes Mulder op 13.12.1682 getroud met Jacoba Kichelaar of Kicheler en is sy jonk oorlede (wat foutief is, soos later sal blyk).

Verskeie afskrifte van hierdie kinderlose egpaar se testamente het behoue gebly

In hul testament van 20 Julie 1716 [7] word hulle beskryf as "E Johannes Mulder oud landdrost van Stellenbosch en Drakesteijn en juffr Jacoba Kichelaar te samen en egte luijden, beijde van bedaagden ouderdom, wonende op haar plaats en hofstede Sorgvliet, . . ." (In hierdie testament word 'n halwe bladsy daaraan gewy om vorige testamente nietig te verklaar!)

Benewens ander bepalings is daar 'n vooraflegaat "te maken aan de diaconij armen van Stellenbosch de somma van tweehondert gulden Caabse waarde".

Hierdie legaat kom ter sprake in die notule van die kerkraadsvergadering van 4 Februarie 1717 [8] in 'n deel wat ongelukkig erg beskadig is en waarin te lees is:

 

 [….] bekend gemaakt dat d'E Oud

[.....] Mulder, en sijn Es overlede Huijsvrou

[.....] ment aan de diaconie armen van Stell

[.....] hadden twehondert gls, en dat sijn E

[.....] die penn(ingen) aftegeven, soo wanneer

[.....] wilde belooven, om het gesonke lyk [..]

[.....] tegenwordige kerk optenemen en weder

[.....] bequaamd grafstede van d'aa

[.....] t geen voorgesteld soo heeft

[.....] bekoomen en dit notultie aan

Henricus Beck          

 

 

Die afleiding is onafwendbaar dat Mulder, ten spyte daarvan dat die testament bepaal dat die gelde "door de langslevende . . . . moeten uijtgekeert werden en zulx zonder meer" [7], voorwaardes gestel het vir die uitbetaling van die erflating.

Dit is duidelik dat toe Jacoba Kichelaar omstreeks einde 1716 oorlede is, sy in "de ruijne van d’ oude Kerk" begrawe is. Oudlanddros Mulder was blykbaar vas oortuig dat daardie kerkie in herboude gedaante, waarvoor hy hom beywer het [9], 'n waardige laaste rusplek vir sy oorlede vrou sou wees. Kort hierna het Mulder blykbaar snuf in die neus gekry dat, "skielik" soos Hugo dit stel [10], daar 'n beweging is om 'n nuwe kerk te bou, soos trouens op die kerkraadsvergadering van 4 Februarie 1717 besluit is, maar op 'n heel ander plek. Heel menslik gebruik die oudlanddros toe die erflating om die kerkraad te beweeg om in November 1717 die herbegrafnis van sy vrou te onderneem.

‘n Graf sonder menslike oorblyfsels in die fondamente van die kerkie wat in 1710 afgebrand het, soos dit in 1986 blootgelę is
deur argeologiese opgrawings. Dit is tans nog te sien in die kelderverdieping van die restourant in De Oude Werf.
Kan dit dalk Jacoba Kichelaar se eerste graf wees?
(Met vergunning van Hennie Vos)

Johannes Mulder is volgens latere boedeldokumente [11] tussen Junie en Augustus 1732 oorlede en in die nuwe kerk in graf 16 begrawe [12].

Om tot die vraag hierbo terug te keer:

Die finale rusplek van Hendrik Elbertsz in 1692 is dus wel (tot dusver) die oudste gedokumenteerde in Stellenbosch.

Dit sal genealoë interesseer dat sy nageslag, beide van manlike en vroulike kant, blykbaar uitgesterf het [13]. Sy sterfdatum, Oktober 1696, soos in SAG aangegee, is foutief.

 

 Die oudste grafsteen (en trouens die enigste uit die 18de eeu) wat tot dusver by Stellenbosch gevind is,
 is die  van Johan(n) Kuster/Koster “van Lockstedt Baas Smidt”
(geb.
21.10.1736 oorl. 14.11.1796) op Scholtzenhof..

Verwysings

 

[1] KAB C1391 pp. 73 en 74

[2] AM Hugo & J v d Bijl "Die Kerk van Stellenbosch", Tafelberg, Kaapstad (1963) p 21

[3] Ibid p. 34

[4] Ibid p. 86

[5] Stellenbosch Kerkraadsnotules [ November?] 1717

[6] CC de Villiers & C Pama "Geslagsregisters van die ou Kaapse Families", Balkema, Kaapstad (1966)

[7] KAB MOOC 7/1/2; 79& 80

[8] Stellenbosch Kerkraadsnotules 4 Februarie 1717

[9] Hugo & v d Bijl pp.53 & 54

[10] Ibid pp.49 & 50

[11] KAB MOOC 7/1/4; 123

[10] Hugo & v d Bijl p.227

[13] JA Heese & RTJ Lombard "Suid-Afrikaanse Geslagregisters" Deel 2, p.177 RGN, Pretoria (1989)

[14] Vgl. JA Heese & RTJ Lombard "Suid-Afrikaanse Geslagregisters" Deel 4 p.420