Die
Stellenbosse Heemkring 50 jaar feesviering |
|
Ná maande se
voorbereiding het die groot dag aangebreek – die Heemkring se
halfeeufees op 24 Oktober 2018. Die Heemkring is baie dankbaar dat die
Stellenbosse Universiteit die ou Bloemhofgebou beskikbaar gestel het
vir die geleentheid, insluitend personeel wat die stoele en
tafels sou regpak en die luidsprekerstelsel en projektor sou opstel en
beheer. Die voorbereidings vir die geleentheid het ingesluit: druk en verspreiding van die uitnodigingskaartjies; ontwerp en druk van die program; opstelling en druk van die Herdenkingsboek; die transkribering van die ou Kasboeke van Stellenbosch en Drakenstein van 1688-1724; organisering van die seremoniemeester, en sprekers, spyseniering, agtergrondmusiek, fotomontage, fotograaf en pers; ens. Die laaste vyf stigterslede wat opgespoor kon word (die spesiale gaste vir die geleentheid), was uitgenooi en die oorkonde, wat aan elkeen oorhandig sou word, ontwerp en gedruk. Wat ‘n lieflike en gesellige aand het dit nie geword nie! Dit was duidelik dat die gaste met hulle aankoms beïndruk was met die saal, die uitleg, die blomme en musiek. Met Hennie Vos as seremoniemeester het al die items op die program glad verloop. ‘n Besondere hoogtepunt van die aand was die verwelkoming en voorstelling van die stigterslede. Die res van die program het insae verskaf in die energie en betrokkenheid van die Heemkring op verskeie terreine. Na afloop van die formele verrigtige kon almal verdaag na die ruimte langsaan om van die smaaklike eetgoed en wyn te geniet (besonder positiewe kommentare is ontvang oor hierdie gedeelte van die aand). ‘n Heildronk op die Heemkring se vyftigste verjaardag het die gaste nog verder in die regte luim gebring. Ná die ete is kopieë van die Feesbundel aan gaste uitgedeel en ‘n groepfoto is van alle teenwoordiges geneem. Die foto’s hieronder, geneem deur Nico Grundlingh, verskaf ‘n bondige insae in die feesviering. ‘n Meer volledige stel hoë-digtheid foto’s word in die Heemargief se fotoversameling opgeneem en belangstellendes word hartlik uitgenooi om daarna te gaan kyk. |
|
|